sacrosscountryracing



document : Versigtigheid en konsentrasie belangrike faktore vir Oos-Kaap 500


Versigtigheid en konsentrasie belangrike faktore vir Oos-Kaap 500
information supplied by: Cross Country Commission (Media) 01 April 2008

Spanne met tydrenondervinding sal hoop dat hulle ‘n effense voordeel by die Oos-Kaap 500, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 18 en 19 April plaasvind, sal hê. ‘n Aansienlike gedeelte van die byeenkoms, wat as gevolg van die onlangse brandstofprysverhogings van 1 000 kilometer na 500 kilometer verkort is, sal in die omgewing van die Longmore-plantasies plaasvind. Dié area speel ‘n gasheer vir die VW-Tydren, ‘n ronde van die Sasol-Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap, en spanne met tydrenondervinding sal ‘n goeie idee hê van wat presies verwag kan word van ‘n terrein wat nie gereeld deur die veldrengemeenskap besoek word nie. Alhoewel die Longmore-plantasies slegs ‘n gedeelte van 40 vierkante kilometer strek, het die renorganiseerders, die Algo Motorsport-Klub, dit vermag om ‘n roete van 240 kilometer in dié omgewing te kry. En, volgens Joe Fourie, die hooforganiseerder, bestaan dié gedeelte van die renroete uit ‘n ietsie van alles. “Daar is vinnige gedeeltes asook knap en bedrieglike dele terwyl die roete ook verskeie interessante bergagtige terrein insluit,” het Fourie gesê. “Ván die paaie is rof en dit is die soort byeenkoms waar jaers met hul koppie moet jaag en nie met hul voete nie.” Verskeie spanne wat tans aan die Absa-Veldrenkampioenskap deelneem, beskik oor tydrenondervinding. Hannes Grobler (Nissan Navara) en Richard Leeke (Motorite-BAT), beskik beslis oor die meeste ervaring en is veelvuldige voormalige SA-tydrenkampioene. Mark Cronje/Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux) is tans die Klas A-tdyrenkampioene en die kampioennavigator, Pierre Arries, het by Gary Bertholdt (Atlas Copco-BAT) in die Spesiale Voertuigkategorie aangesluit. Arries, wat sy tydrenloopbaan langs Grobler in ‘n Nissan Sentra begin het, het sy eerste veldrenervaring tydens die onlangse Nissan-handelaars 400 by Darling gehad. “Die Longmore-gedeelte gaan bedrieglik wees,” het Cronje gesê. “Daar gaan baie blinde hoogtes wees en draaie met afgronde. Mens moet ook versigtig wees vir afgeskuinste draaie. “Soos wat die geval is met die Toyota-handelaars 400 in Mpumalanga se plantasiegedeeltes, is dit gewoonlik glad en is dit maklik om van die pad af te gly.” Die byeenkoms sal op 18 April met dokumentasie en voorrenvoertuigondersoeke by King’s Beach Garden Court in Port Elizabeth begin. Die voorren, wat die wegspringvolgorde vir die hoofren bepaal, sal in die King’s Beach-parkeerarea begin en sal oor ‘n afstand van 70 kilometer in die Koega/Uitenhage-omgewing strek. Die hoofren sal om 08h00 by King’s Beach begin en die roete, wat uit twee bene sal bestaan, sal oor ‘n afstand van ongeveer 430 kilometer strek. Die eerste been sal Koega tot by Rocklands insluit en sal na die aangewese dienspunt (DSP) by King’s Beach terugkeer. Daar sal ‘n verpligte 15 minute-stop vir alle voertuie wees voordat hulle die tweede been aanpak. Dit sal deelnemers na die Longmore-streek neem waarna hulle by King’s Beach eindig.



Tags | 2008 Eastern Cape 500 | Cross Country Commission (Media) | Motorsport |